Julle het gevra, ons (of ons slim maatjies) het geantwoord:

Daar is deesdae soveel gevalle van kinder selfmoord. Wat kan ek as ouer doen om so situasie met my kinders te vermy…

Selfdood
Geen ouer wil eers aan die moontlikheid dink dat hulle kind op ‘n punt kan kom wat hulle nie meer kans sien vir die lewe nie. Maar die realiteit is dat ons as ouers met nugter oë na ons kinders moet kyk, sodat ons vroegtydig bewus kan raak daarvan as ons kinders worstel met emosies wat te groot is vir hulle om self te hanteer.

Alhoewel daar geen onfeilbare 10-punt plan is om te verhoed dat jou kind sy of haar eie lewe sal neem nie, is daar egter meeste van die tyd tekens waarvoor ‘n mens kan uitkyk en aspekte wat ‘n mens in plek kan kry in jou kind se lewe om so ‘n tragedie te help voorkom.

Kom ons kyk eerstens na die beskermende faktore wat selfdood verhoed:
1) Sterk sosiale konneksies
In vele studies word dit aangedui dat as jy gesonde sosiale konneksies het, met ander woorde jy het mense wat vir jou lief is en vir jou omgee, is die kanse dat jy jou eie lewe sal neem, baie minder. As jou kind dus ‘n sterk band het met gesinslede, vriende en familie, gee dit hom die ervaring dat hy nie alleen is en sy probleme op sy eie hoef aan te pak nie, maar dat daar mense is wat hom kan ondersteun. Sodoende voel enige situasie minder hopeloos.

2) Professionele hulp
In sommige gesinne is daar ‘n stigma aan siektes soos depressie of angsversteuring. In sulke gevalle is dit baie moeiliker vir ‘n kind om oop en eerlik te wees met ‘n ouer/s oor die worsteling wat hulle deurgaan. As jy agterkom dat jou kind sielkundige of psigiatriese hulp nodig het, moenie skroom om haar by die regte persoon uit te kry sodat sy die hulp kan kry wat sy nodig het nie.

3) Ouers wat luister
As jou kind oor selfdood praat, skryf of op enige manier die gedagte van selfdood uiter, moenie dit net as ‘tiener-drama’ of ‘aandagsoekery’ afmaak nie. Neem dit ernstig op, vra uit daaroor en kry jou kind by ‘n professionele persoon uit. Mens maak die fout om te dink as jy oor selfdood praat, dan plant jy idees in jou kind se kop. Navorsing wys egter dat as daar oor die donker gedagtes van selfdood gepraat word, verloor dit dikwels sy krag.

4) Ouers wat uitkyk
Daar is sekere omstandighede wat die risiko van selfdood verhoog. Wees dus veral op die uitkyk vir waarskuwingstekens indien jou kind…

  • iemand ken wat hulle eie lewe geneem het- dit kan baie keer ‘n volgende geval “trigger”;
  • onlangs iemand verloor het wat vir hulle kosbaar was;
  • met sy/haar seksuele orientasie worstel (dit kan dit ook lei tot gedagtes dat hulle nie meer wil lewe nie);
  • al voorheen ‘n poging aangewend het om hulle eie lewe te neem.

Wat is die Waarskuwingstekens?
Natuurlik voel enige kind of tiener soms emosioneel en oorweldig. Hoe kan ons as ouers weet wanneer ons bekommerd moet wees? SADAG (South African Depression and Anxiety Group) se website identifiseer die volgende waarskuwigstekens wat baie handig gebruik kan word:

  • GEDRAG: Drastiese veranderinge in eet- of slaappatroon, onttrek sosiaal, baie geïrriteerd, gee kosbare besittings weg of neem afskeid van geliefdes.
  • GESPREKKE: Praat, skryf, teken of ‘post’ aanlyn oor die dood (hulle eie of ander mense s’n). Sê goed soos: ‘Ek wens ek was nie meer hier nie’, of ‘Julle sal beter af wees sonder my’.
  • GEMOED: Verloor belangstelling in aktiwiteite waarvoor hulle voorheen lief was, isoleer hulself van vriende en familie, woede, kom depressief en angstig voor.

As jy wonder of jou kind hulp nodig het, moenie skroom om met iemand te praat nie. Indien jy verdere inligting soek, kyk ook gerus op www.sadag.org/index.php.

Ek het ‘n hele ruk gelede, ‘n praatjie van “The Chat” geluister – ‘n skakel wat die skool uitgestuur het. Dit was ongelooflik interessant en die aanbieder het genoem dat daardie tipe geselsies moet plaasvind voor 8 – “8 is too late”. Hoe doen mens dit? 🙂

Daar is vele boeke wat mens kan gebruik en wat regtig ‘n baie mooi benadering het. ‘n Redelike nuwe een is “Ons Lyfies” (Sien foto) So ‘n boek kan baie sinvol aangewend word en lei tot gesprek. Antwoord slegs vrae wat jou kind vra. Dit is nie nodig om meer inligting te gee nie. Klein kinders se vrae is gewoonlik onskuldig en baie eerlik. Hulle dink nie op dieselfde vlak as tieners of volwassenes oor hierdie saak nie.

My dogtertjie van 6 jaar oud, is geneig stertjies aan te las by stories wat sy vertel – m.a.w sy jok… As ek haar vra hoekom sy dit doen dan se sy dis sodat sy ‘beter’ klink.. sodat sy goed genoeg is… Is dit rede vir kommer?

Dis nie iets wat ek oor wakker sal lê nie, maar ek sal dit definitief ook nie ignoreer nie. Wat ek hoor sy sê is dat sy graag goed genoeg wil voel / wees, en op die oomblik beleef sy haarself in haar wêreld as nie goed genoeg nie.

Kinders hoor en sien ALLES! Alles wat ons sê en nie sê, doen en nie doen nie neem hulle in. Hulle omgewing vorm hulle. Hulle neem hulle omgewing in en gee dit weer vir ons terug deur hulle gedrag en spel. Dit is as’t ware gedurige programmering wat in ’n kind plaasvind. Hoe ouers (en onderwysers / afrigters) praat met ons kinders raak hul binne stem – hoe hulle met hulself oor hulself praat én voel. Die boodskap van onvoorwaardelike aanvaarding van wie ek is, is ’n baie belangrike boodskap in hierdie vormings jare. Jou unieke jy wees is kosbaar. Daarom moet ons bedag wees oor hoe ons praat, wat ons sê en ook baie belangrik hoe ons dit sê, sodat hulle met selfvertroue in hulself kan ingroei. Daar het die laaste ongeveer 15 jaar ’n manier van praat posgevat van alles moet ‘awesome’, ongelooflik, verskriklik, fantasties wees anders is dit, nie intens genoeg nie – nie goed genoeg nie. Die realiteit is dat die lewe nie die heeltyd in die oortreffende trap gebeur nie.

‘n Ou wyse kollega het altyd benadruk: “validation is the best medication”. ‘Validation’ doen mens deur erkenning te gee aan die kind se belewenis. Met ander woorde: Ek hoor dat jy opgewonde is oor wat gebeur het. Ek sien dat jy dit en dat geniet het, of dat jy nie van dit en dat gehou het nie. Ek hoor dat dit vir jou belangrik is om te voel dat jou storie ‘n baie goeie storie is. Jou storie, net soos hy is, sonder om ‘n stertjie by te sit, verder in te kleur, is meer as genoeg goed net soos hy is.

Dr Christel Kieser-Muller

Is daar enige kursusse wat ons skool/eksterne mense waarvan julle weet, om kinders te leer hoe om te ‘leer’.

Juffrou Jane bied jaarliks ‘n baie effektiewe studiemetode kursus aan. Omdat sy deel is van ons span kan sy ‘n pad stap met elke kind.: 082 551 4277
‘n Ander kursus wat baie ingrypend en deeglik is, is die van  Dr Cas Olivier. 083 259 2857

Hoekom word daar so baie kinders deesdae na spelterapeute verwys?

Daar is baie faktore wat inspeel op ‘n kind se emosies.

  •  Die lewe het so kompleks geword en ouers moet met soveel vraagstukke en probleme worstel dat die spanning daarvan oorspoel na ons kinders. Ouers het dikwels lank reeds ‘n probleem deurgewerk, dan sal ‘n kind nog daarmee stoei. 
  • Vele ouers is beroepsgerig en uiters kundig en goed gekwalifiseerd. Die natuurlike gevolg is dat ouers met dieselfde boekekennis wil kinders grootmaak en dan maklik die natuurlike aanvoeling en sesde sintuig rakende hulle kinders verloor.
  • Baie opvoedkundige handleidings plaas ‘n kind in ‘n oor vereenvoudigde boksie of karakter tipe Die wese van enige mens is egter nie so eenvoudig nie. Wanneer ‘n kind daarvolgens hanteer word, kan dit lei tot spanning en ‘n onnatuurlike begeleiding in ‘n bepaalde vorm in.
  • Die lewe het so gejaagd geword dat daar daar min tyd is vir konneksie  tussen ouers en kinders. ‘n Kind moet regtig gehoor word . Kwantiteit tyd is ook belangrik en nie net kwaliteit tyd nie.
  • Ouers jaag so maklik sukses of korrekte opvoeding en perfekte kinders na, dat die hart van die kind misgekyk word. Die “eerste is beste”  kultuur maak dat ons die ‘nou’ nie waardeer en geniet nie.

Om spelterapie te kry is nie ‘n klad op die ouers se naam nie. Dit is ‘n hulpmiddel en  enige kind kan daarby baat vind want niemand is volmaak of perfek nie. Wanneer ‘n kind se been gebreek is, sal ons nie huiwer om gips te laat aansit nie, maar as daar ‘n haakplek in ons kind se emosies is, dan wonder ons of dit raadsaam is om hulp te verleen. Dit maak tog nie sin nie. Kom ons gee elke kind die hulp en geleenthede om so heel as moontlik groot te word.