Janetta van NiekerkLiewe Ouers,

Dankie dat u belangstel om u kind aan ons toe te vertrou. Ons weet dat belangrike grondslagvorming in enige kind, voor die ouderdom van agt plaasvind. Die droom om ‘n verskil in kinders se lewens te maak, het gelei tot die ontstaan van hierdie skooltjie waar dit primêr om die kind se ontwikkeling en vorming gaan. Ons staan bekend vir ons liefdevolle atmosfeer waar elke kind aanvaar word soos hy/sy is.

Ons bied elke leerder die geleentheid om as individu te ontwikkel en om met die nodige selfvertroue hom-/haarself te kan handhaaf in enige situasie. Elke leerder se bewuswording van ‘n eie identiteit; van Godgegewe gawes waarmee kreatief gewerk kan word en ‘n dankbare aanvaarding van hierdie “uniekheid” is vir ons ‘n hoë prioriteit.

Vanuit ons Christelike oortuigings bou ons graag waardes gebaseer op Bybelse waarhede in ons kinders. Hierdie karaktervormende aspek is ‘n integrale deel van die leerplan en is nie beperk tot ‘n Bybellessie nie. Die kind kan lewensvaardighede aanleer en, onder liefdevolle begeleiding, self ontdek om sy/haar plek in die gesin, skoolomgewing en die samelewing te kan volstaan.

Ons wil graag hê dat elke kind verrykende jare in hierdie skool sal beleef en daardeur ‘n stewige fondament ontwikkel wat in sy/haar hele lewe ‘n verskil sal maak.

Die ervarings en belewenisse wat ‘n kind het oor sy wêreld gedurende die eerste jare van sy lewe, ongeveer van 1 tot 9 is van kardinale belang. Ek glo dat mens in hierdie tyd besig is om ‘n fondasie te grawe van ‘n lewenshuis. As die fondasie sterk en stewig is kan mens ‘n kasteel daarop bou.

Wanneer daar egter krake of swakker dele in die fondasie is, is dit baie moeilik herstelbaar op ‘n latere ouderdom. Maande se terapie is gewoonlik die enigste uitweg. Soms help dit, soms moet ’n kind maar leer om met sy pyn saam te leef. Die fout wat ons westerlinge normaalweg maak, is om te gou te begin bou aan die “lewenshuis” en nie wag dat die “fondasie” sterk genoeg is nie.

Ons werk oor die algemeen met intelligente en bevoorregte kinders wat dit verleidelik maak om met die volgende stap van die huis te begin. Dit is egter nie wys nie.

‘n Kind op hierdie ouderdom moet sukses ervaar en in homself glo. Hy moet beleef dat die lewe vir hom “ja” sê ongeag sy potensiaal. Kinders wat gelukkig is, veilig voel en tuis is, wil leer. Wanneer kompetisie nie vooropgestel word nie, kan ‘n kind presteer. As ‘n kind in homself glo, sal hy sy potensiaal bereik. Kinders moet toegelaat word om foute te maak, dit is deel van die lewe. Daardeur leer mens en kan nuwe hoogtes ontdek word. Daar moet by ‘n kind ‘n honger gewek word om te wil weet, eerder as om te weet.

Ons het die uitdrukking by ons skool dat dit elke juffie se taak is om elke dag op elke kind se kop denkbeeldig ‘n kroon te sit. Dit help mens nogal wanneer jy met ‘n kind gesels om perspektief te behou oor dit waarmee mens besig is.

Ons hoop u kind sal werklik gelukkig wees en tot sy/haar volle potensiaal ontwikkel. Bespreek asseblief enige probleem of versoek met groot vrymoedigheid.
Ons strewe om deur geloof, hoop en liefde elke kind se:

  • innerlike karakter
  • basiese liggaamlike vaardighede
  • houding en optrede teenoor ander geloofsverwondering in God,
  • en lewensvreugde optimaal te laat ontwikkel

Ek deel elke ouer se mooiste wens vir hul kind(ers):
“I want them to be the happy end of my story.”
Margaret Atwood

Groete
Janetta van Niekerk: Skoolhoof

 


Biografie:

Ons hoof, Janetta van Niekerk, is ‘n uitnemende leier in die onderwys.

Sy het oor die afgelope 35 jaar verskeie grondslagfase ontwikkelings by skole ontwikkel onder andere die Doxa Deo – skole.

Sy is aktief as raadgewer en mentor betrokke by die stigting van nuwe skole

Sy glo dat ons vir die grondslagfase van onderwys die beste mense in ons land nodig het en hulle moet bemagtig om by te dra tot verantwoordelike vorming van die kleiner kind.

Die mees effektiewe opleiding is in ‘n klaskamer waarin eerstehands beleef word hoe uitnemende onderrig op kreatiewe wyse plaasvind. 

Kort CV

Janetta is die jongste van 6 kinders. Haar pa was ‘n sendingdokter en daarom gaan sy skool op Laerskool Maricodraai en Hoërskool Lichtenburg waar sy hoofdogter in 1977 was.

Sy studeer aan Universiteit Pretoria in Kleuteropvoedkunde. In haar finale jaar verwerf sy die Van Schaik-toekenning vir die belowendste student in Kleuteropvoeding.

Sy trou met André van Niekerk, ‘n NG Kerk-leraar. Hulle het 4 kinders.

Janetta begin haar eie kleuterskool in die Gezina/Rietfontein omgewing terwyl hulle kinders klein was. Sy begin ‘n Kleuterskool vir opleidingsdoeleindes by Universiteit Pretoria. Later vra die Laerskool Queenswood dat sy ‘n Pre-primêre afdeling by die skool begin. In 1998 identifiseer die gemeente Doxa Deo haar as stigteronderwyseres vir hulle privaatskool.

Janetta het by talle geleenthede werkswinkels vir Kleuterskool-onderwyseresse en studente help aanbied. Sy is die skrywer van 5 Kleuterblyspele en samesteller van 1 Kleuterliedjies-CD.

Vanaf 1996-2008 was sy die sangleier by Skuilkrans-gemeente se Gesinsdiens. In 2003 is sy aangestel as Jeugwerker by kinderkategese en gevra om ‘n Kleuterskool vir die gemeente te ontwikkel.

Die Kleuterskool en later ook Laerskool tot Graad 7 het onder haar leiding gegroei van 22 kinders in 2004 tot 434 in 2018.