Ons bied uitnemende kwaliteit opvoeding met ’n uitgesproke Christelike karakter sodat elke kind vanuit ’n gelukkige, huislike atmosfeer ’n sterk gesonde selfbeeld as fondament ontwikkel waarop ’n lewe van geloof, hoop en liefde gebou kan word.
DOEL VAN DIE SKOOL:
Om u kind in ‘n gelukkige, informele atmosfeer te laat ontwikkel tot ‘n kind wat gereed is vir formele onderrig in die Laerskool en dan in ‘n verdere meer formele atmosfeer te laat ontwikkel tot ‘n kind wat gereed is vir onderrig in enige skool vanaf Graad 8.
Die skool bied tans die geleentheid vir kinders om deel van die skool te bly tot en met Graad 7. Ons het vir die eerste paar jaar gefokus op die grondslagfase. Hierdie fase van ‘n kind se ontwikkeling is vir ons van kardinale belang en daarom was die implimentering van ‘n grondslagfase laerskool vir ons ‘n droom wat nodig was om ons doelwitte te bereik. Nadat die grondslagfase heeltemal gevestig was, het ons die skool stelselmatig begin uitbrei na ’n volledige intersen fase. Dit is vir ons belangrik dat die skool sy besondere aard en karakter moet behou. Daarom dat ons dit stelselmatig uitbrei tot ‘n volledige laerskool.
- Ons wil graag ‘n kind se selfbeeld sodanig bou dat hy/sy die oorgang na Graad 4, met selfvertroue sal aanpak;
- Ons werk nou saam met skole en speelgroepe in die omgewing om sodoende almal se hande sterker te maak; en
- Ons lewer ‘n diens aan ouers, wat ons passie deel en wat hulle kinders in ‘n kleiner, meer beskermende omgewing wil plaas in hierdie eerste kennismakingsfase van formele onderrig.
Ons wil graag ‘n stukkie van die ouerhuis in die skool inbring deur:
- informeel te werk te gaan;
- kindgerig te werk te gaan en nie primêr inhoudgerig nie;
- ‘n sagter benadering te volg in Graad 1;
- ‘n warm, vriendelike, veilige en gesellige atmosfeer te skep;
- u kind toe te laat om hom/haarself uit te leef; en
- Christus se liefde die deurslag te laat gee.